Most Popular Posts

Tuesday, October 20, 2015

#ROSACon2015: Kristel Loots on 'Moet jou skrywer of karakters gemuilband word?'

Thank you so much to Carolyn Meads, editor at NB-Uitgewers for this report on Kristel's talk.


Hoe besluit jy hoe jou karakters moet klink? En wanneer jy hulle stem gevind het, gee jy aan hulle vrye teuels om voort te babbel of moet hulle soms gemuilband word?

Dis nie altyd so eenvoudig om dié vrae te beantwoord nie, het Kristel Loots by die onlangse ROSA-konferensie gesê.
“It’s complicated. En daarom is skryf nie vir sissies nie.”

Kristel het ’n foto van ’n uiters konserwatiewe dame en een van ’n kroegmeisie in ’n laehalstoppie op die skerm vertoon en dié twee karakters as “mevrou doktor Hoogenboesem” en “die kroegmeisie met die cleavage” voorgestel. Hoe sou dié twee se dialoog klink?




“Daar is die stereotipes,” het Kristel gesê. “Mevrou doktor Hoogenboesem, madame die burgemeestersvrou, ’n onderwyseres en ’n bibliotekaresse sal almal min of meer so naastenby dieselfde klink. Redelike sedig, vroom en vroed. Miskien ’n bietjie pretensieus en lief vir woorde soos huidiglik, basies en fundamenteel.”

Maar toe daag Kristel die gehoor uit: “Sê wíé?” Sy het ons daaraan herinner dat skrywers juis stereotipes nekomdraai. “Selfs mevrou dominees is nie meer wat hulle was nie . . . En die rondborstige kroegmeisie werk moontlik aan ’n tesis vir ’n sosiologiese-teologiese doktorsgraad oor die waarde-konsep van een of ander sosiale verskynsel en is net daar as deel van haar navorsing!”

Om uiteindelik jou karakters se ware stem te vind, moet jy hulle “as mense leer ken”, het Kristel verduidelik. Dit sluit in hul geskiedenis, familie, persoonlikheid, politieke oortuigings – selfs watter grootte bra sy dra. “Elke mens het ’n unieke, anderste manier van praat wat eie is aan jou menswees . . . Elke karakter het ook gunstelingwoorde wat gereeld gebruik word.”

Die volgende vraag wat Kristel aan die gehoor gestel het, was of ’n karakter mag “twak praat”. Sy het daarop gewys dat ons in die werklikheid dikwels oor alledaagse en vervelige onderwerpe praat net om iets te sê, en vriendelik en hartlik voor te kom. Jy kan dit egter nie so in jou dialoog gebruik as dit nie funksioneel is nie.

Kristel het ook die onderwerp van kragwoorde en spesifiek die gebruik van die f-woord getakel. Sy meen skrywers van romantiese fiksie moet versigtig daarmee omgaan, maar dit beteken ook nie dat dit glad nie gebruik mag word nie. Die mate waartoe kragwoorde gebruik word hang dikwels af van wie die teikenleser is en ook soms van die skrywer se persoonlike gevoel daaroor. Kristel verkies self die versagte vorm “frieken” omdat dit steeds ’n mate van die ware f-woord se krag oordra, sonder dat dit direk gesê word. Maar as ’n sekere karakter wel iemand is wat in ’n bepaalde situasie ’n kragwoord sou gebruik, kan jy waarskynlik nie anders as om dit in span nie.

Om haar punt te illustreer, en haar praatjie af te sluit, het Kristel die Suzelle DIY-video “How to Make a Braai Pie” gewys. Die f-woord aan die einde van dié toneeltjie is volgens haar uiters geskik: “Mapstieks sou nie daar gewerk het nie!”




Kristel's latest novel, 'n Ander vrou se rok, is available now.




No comments:

Post a Comment