Hoe warm mag dit onder die lakens raak?
Gesprek gelei deur Madri Victor
Deelnemers: Malene Breytenbach, Kristel Loots, Carolyn Meads en Elsa Winckler
1. Graad van hitte
Madri vra vrae oor die volgende:
Hoekom is dit so moeilik om ʼn goeie sekstoneel te skryf? Hoekom skram sommige van julle weg daarvan? En wat moet ʼn mens doen voor jy begin skryf? Waar skryf julle? Maak dit jou ongemaklik om oor die liefde en liefdesdaad te skryf? Kan jy dit doen terwyl ander mense om jou is (soos in ʼn koffiewinkel)?
Die konsensus is dat die Afrikaanse leser op die oog af heelwat meer konserwatief is as haar Engelse eweknie en nie hou van te grafiese tonele nie. Volgens Carolyn Meads, uitgewer by NB, verkoop “warmer” fiksie wel redelik goed in Suid-Afrika, byvoorbeeld Boer kry ‘n vrou, maar wat liefdesverhale spesifiek betref, word liefdestonele steeds grotendeels in vae romantiese terme beskryf.
2. Die perfekte liefdestoneel.
Wat is die perfekte liefdestoneel: alles wat ʼn mens skryf, is tog ʼn produk van jou verbeelding. Skryf ʼn mens dan jou ideale romantiese date of liefdestoneel – ook sekstoneel, in ʼn romanse? Is dit dus die droom – nie net jou leser sʼn nie, maar ook jou eie? (Dink hier aan die manier waarop die held die heldin benader, soen, met haar liefde maak.)
Hoe voel julle daaroor om uit die manlike perspektief seks te beskryf? Moet dit in ʼn romanse uit die vroulike perspektief wees?
Ons besluit (ook na aanleiding van Madri se vroeëre praatjie oor die hedendaagse man) dat ’n skrywer heelwaarskynlik ’n prentjie van haar ideale held in gedagte het wanneer sy ’n liefdestoneel beskryf. Die leser wil die heldin se gevoelens ervaar, maar sy hou ook daarvan om te weet wat die held dink. Vroue wil begeer word en dis soms lekker om uit die manlike oogpunt te lees hoe hy die heldin bewonder.
3. Inspirasie
Lees julle erotika? Kry jy “inspirasie” uit ander romanses met warm sekstonele? Hoe verskil oorsese romanses van die SA weergawe? Is hulle warmer?
Wat in Afrikaans as stomend beskryf word, is in oorsese romanse taamlik mak.
4. Beskryf jy nog wanneer die held die heldin beskerm tydens die liefdestoneel?
Daardie praktiese dinge: moet jou held ʼn kondoom gebruik? Romanse is ʼn ontvlugting, maar dit skram nie weg van moeilike kwessies nie. Dink jy dit is nodig om te verwys na ʼn kondoom?
Daar is tog ’n gevoel dat jonger lesers ons stories lees en alhoewel die skrywer nie ’n plig het om voorligting te verskaf nie, is daar wel ’n argument te maak om wel na voorbehoeding te verwys – maak dit humoristies, verwys skrams daarna, ens.
5. Waar vind jou liefdestoneel plaas?
Is dit belangrik waar ʼn sekstoneel of warm liefdestoneel afspeel? Mag ʼn mens dit maar in die openbaar (soos op ʼn strand) plaas?
Daar is die fantasie en die werklikheid. Liefdestonele vind gewoonlik binnenshuis plaas.
6. Watter woorde gebruik jy?
Toe Die AA tot OE van seks verskyn het, het Karin Elof in ʼn resensie gesê: “Riette (Rust) verdien regtig spesiale erkenning vir haar oorspronklike name vir seksposisies en -speelgoed, soos vloerwoer, kopgalop, wysneus, snoeswoes en vibreerbroekie! Dis absoluut pragtig, maar wragtie nie soos ek al ooit enigiemand hoor praat het nie. “Ag, skatlief, bring gou my vibreerbroekie sodat ons ’n bietjie kan hang-pangelang, toe?” Uhm, I don't think so.” Kan ons ʼn bietjie praat oor die regte woorde vir die spel? Moet ʼn mens wegbly van woorde soos “vagina” / “penis” of is dit juis verkieslik bo iets soos “oester”/ “meneer”?
In Afrikaanse liefdesverhale word geslagsdele nie op die naam genoem nie. Die klem is eerder op ’n beskrywing van die die heldin se gevoel.
7. Wanneer het jy genoeg beskryf?
Hoeveel momentum bou ʼn mens op na ʼn liefdestoneel toe en waar stop jy? Mag jy heel vroeg in die verhaal al ʼn warm toneel hê? Moet dit dan warmer raak soos jou verhaal verloop?
’n Liefdestoneel moet die storie bevorder, nie net iewers ingedruk word nie. Die konflik moet verdiep, ons moet iets meer omtrent die karakters leer, ens. Wanneer ’n liefdestoneel vroeg in die storie reeds plaasvind, moet iets anders hulle weer uitmekaar hou sodat die spanning kan voortbou.
Seks moet nie met liefde verwar word nie. Daar kan vroeër reeds ‘n sekstoneel plaasvind, maar dan moet hulle nog nie hulle liefde vir mekaar verklaar nie. Die liefdesverklaring is die werklike klimaks van die liefdesverhaal, nie die seks nie. Wanneer die held en heldin albei besef dat hulle mekaar lief het en hulle gevoelens openlik met mekaar deel. Maar eers moet daar ‘n opbou van spanning tot daardie punt wees. Seks ontlont nie noodwendig die spanning nie, maar kan dit selfs verhoog, want nou weet die held en heldin hoe goed dit voel om bymekaar te wees, tog hou struikelblokke hul uitmekaar en groei hul verlange. Ek moet egter erken dat in die meeste Afrikaanse liefdesverhale slaap die held en heldin eers naby aan die einde van die verhaal saam wanneer daar reeds ‘n commitment (verbintenis?) aan mekaar gemaak is.
Ons wou ook nog gesels oor die beskrywing van die liefdesdaad self, besluit hoe vinnig die karakters in die bed kan spring en hoe jy die oomblikke na die liefdestoneel beskryf, maar die tyd het ons ongelukkig ingehaal.
No comments:
Post a Comment