Thursday, July 5, 2018

Die moderne romanses: ’n gesonde cupcake

Today's post is by Cliffordene Norton, editor at Lapa Uitgewers.  Thank you, Cliffordene!

* * *

Sprokies vir volwassenes, dis hoe romanses dikwels beskryf word.

Maar ’n leser van romantiese fiksie weet dat dié genre en vroulike issues dikwels saam stap. Die dae van ’n vrou wat met haar nommer drie-skoentjies, onmenslike skoonheid en kraakvars onskuld wag vir ’n man om haar van oujongnooistatus te kom red is gelukkig verby.

Maar in ’n tendense wat al hoe meer in Afrikaanse romanse voorkom is dat voorheen taboe temas soos depressie, onvrugbaarheid en kanker meer in liefdesverhale na vore kom. En as ’n ywerige leser en uitgewer van romanses, kan ek net sê: Hier kom ’n goeie ding!

Die donker kant van die lewe begin sy skadu saggies oor romanses gooi, maar in plaas daarvan om die sprokieselement van die verhaal weg te neem, skep dit ’n verhaal met diepte, wat meer eg en meer emosiegedrewe is. Lig en hoopvol maar met ’n goeie skoot realisme in.

Een boek wat kenmerkend is van hierdie soort verhale is ongetwyfeld Sophia Kapp se Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva. Wie ken nie die diva nie? Die hoofkarakter word soos volg bekend gestel: “Dit is Simoné se annus horribilis. Op vier en veertig stap sy vir die tweede keer uit ʼn huwelik, bankrot, werkloos, moedeloos, verbrysel.” Hierdie vrou en die lewe het duidelik mekaar al ’n paar rondtes aangevat.

Die diva is ’n karakter wat min in vroue- of romantiese fiksie voorkom: eg menslik, modern met bagasie. Hierdie egtheid en die struikelblokke waardeur vroue vind al hoe meer hul plek in boeke.

In Romanza het dit begin met Didi Potgieter se ’n Tweedehandse hart (Julie 2016) waar die held en heldin hul verhouding beëindig na die miskraam van hul kind. Helene en Cronjé is alledaagse mense, vriende wat jy ken, en daarin lê die mag van die verhaal.

Die Romanza-skrywer, Marilé Cloete, het verlede jaar begin om ernstiger temas in haar verhaal aan te spreek. In haar novelle, Man met ’n hart (RomanzaLiefde, Augustus 2017) is die heldin, Jackie, in ’n rolstoel. In Marilé se Oktober 2017-Romanza, Moed vir die liefde, het sy oor nog ’n ernstige tema geskryf. Die pragtige held, Dawid, het depressie. My kollega, Marlies Haupt, het die verhaal uitgegee, en gevra: “Sal jy verlief kan raak op ’n held met depressie?”

Die antwoord was nie net ja nie, maar ja met hartjies in die oë. Dawid se siekte is met empatie en egtheid aangepak. Hy was vir my dapper, want sy siekte, was net dit − ’n siekte en dit het hom nie minder manlik of aantreklik gemaak nie. En hy is die woord ‘held’ in alle opsigte waardig.

Boeke wat hierdie temas aanpak is nie heeltemal nuut nie, maar dit is dun gesaai. Dit het gelyk soos slegs ’n gelukskoot toe verskyn daar meer boeke wat vroue issues en aktuele sake aanspreek. Karlien Badenhorst se novelle Jy het my hart (RomanzaLiefde, Julie 2018) spreek onvrugbaarheid aan en hoe ’n vrou haarself beskou as sy nie kan kinders kry nie.

My kollega, Charlene Hougaard, het ook manuskripte ontvang wat ernstiger temas aanvat, soos Marilé Cloete se Logika van die liefde (Oktober 2018) met borskanker as tema en Elsa Winckler se Vir ewig my altyd (November 2018) wat deur die #MeToo-beweging geïnspireer is. Dit het my laat glo dat boek wat lekker lees én moeiliker temas aanspreek dalk die norm sal word.

Hierdie boeke is nie net vir ons as uitgewers lekker nie, maar die lesers is mal daaroor. Amelia Strydom skryf op GoodReads: “Hoe wonderlik om ʼn romanse met soveel diepte te lees! Marilé Cloete – een van my gunsteling Romanza skrywers – bewys in Moed vir die Liefde dat swaarder, donkerder onderwerpe sinvol hanteer kan word in hierdie lekkerleesgenre.”

Wat inspireer dit? Wel, ons kan kyk na die internasionale mark. Die Amerikaanse historiese romanseskrywer, Sarah MacLean, het openlik erken dat sy nie meer haar hertog in The Day of the Duchess kon vat na Trump se verkiesing nie. Vrouefiksie boeke soos Gail Honeyman se Eleanor Oliphant is completely fine is topverkopers en die beweging het selfs nou ’n naam: up lit.

Is hierdie beweging doelbewus? Miskien, maar dit is ook vir my ’n gevestigde karaktereienskap van die romansegenre: Dit spreek vroue se issues aan. In ons huidige tydgees en land is daar baie issues wat vroue in die gesig staar. Hoekom dit in romanses uitlos as dit deel van ons alledaagse lewe en liefde is?




1 comment: