* * *
’n Genre wat fokus op die liefdesverhouding tussen ’n man en ’n vrou laat gereeld wenkbroue lig, nie net by meeste mans nie, maar ook by vroue wat selferkende feministe is.
Volgens die patriargale sisteem is ’n vrou eers ’n volwaardige persoon nadat sy die titel van mevrou bygekry het. Indien sommige vroue dus romantiese fiksie wil vermy is dit te verstane.
Maar ons bevind ons nou in die 21ste eeu waar feminisme nie meer ’n vloekwoord is nie en feministe ook nie meer hulle bra’s verbrand en hulle beenhare laat groei nie. Kaalvoet en pregnant is by die deur uit saam met die siening dat ’n butch-voorkoms jou onafhanklikheid beklemtoon.
Janice Radway, ’n kenner op die gebied van romantiese fiksie, se navorsing bewys dat feminisme eintlik ’n subversiewe genre is omdat die skrywer (en die leser) mans skep soos vroue hulle wíl hê en nie soos hulle werklik is nie.
En nee, die lesers is nie almal treurige oujongnooiens wat alle hoop op liefde begrawe het en nou maar ’n genadige einde met nege katte inwag nie. Dié genre se heldinne is sterk vroue: besigheidsvroue, onderwysers, joernaliste, prokureurs - noem maar op. En so is die lesers, want die heldin is die leser se alterego.
Die romansegenre is onlosmaaklik verbind aan die evolusie van die vrouebeweging. Vroue is weer vroue sonder om hulle identiteit prys te gee en te probeer om soos mans te dink en te doen. Die moderne vrou voel sy is geregtig op haar eie tyd met ontvlugting soos romantiese fiksie wat haar emosioneel versorg. Want hoewel die kontemporêre vrou in teorie meer voordele het as haar susters van lank gelede, is sy steeds hoofsaaklik verantwoordelik vir die hele gesin se emosionele versorging terwyl sy op haar eie reserwes aangewese is vir haar eie versorging.
Geen moderne vrou kan identifiseer met ’n sorry-Suzie wat te dankbaar sal wees om haar man se skoensole te soen nie. Dus is die heldin sterk, onafhanklik, trots en hoewel sy nie, in die woorde van Romanzaskrywer Madelie Human, “haar bra hoef te verbrand om op haar regte te staan nie” – kry sy haar spreekbeurt.
Die held daarteen is haar gelyke. Hy vul haar aan en aanvaar haar ware self, sonder om ’n vloerlap te wees waar sy haar stiletto’s kan afvee. Hulle is lief vir mekaar en waarom kan die liefde en feminisme nie hand-aan-hand loop nie?
Die feministe vergeet gerieflikheidshalwe dat romantiese fiksie ’n genre is wat deur vroulike skrywers oorheers word. Of dat dit vroue toegelaat het om hul eie geld te verdien in ’n era voor vroue die arbeidsmark kon betree.
Vurige heldinne lewer beslis ’n bydra tot die opheffing van vroue. Of dit so direk is soos die heldinne van die Davelvroue-reeks of meer indirek deur rolmodelle te wees.
Die Amerikaanse skrywer, Suzanne Brockmann, sê oor haar heldinne: “Ek dink die boodskap wat ek deur my boeke stuur is dat vroue sterk kan wees. En dat vroue sterk moet wees. En dat die liefde nie gaan oor die verlies van jouself nie, maar eerder om saam met jou geliefde te werk. Dit gaan nie oor ‘Eendag sal my prins kom en my volledig maak nie’ eerder ‘Eendag gaan ek iemand ontmoet, en ons sal langs mekaar werk om saam ’n toekoms te bou."
En dis die kern van die romanse: Vroue word op ’n subtiele wyse bemagtig.
Image courtesy of pixabay.com |