Tuesday, October 13, 2015

#ROSACon2015: Malene Breytenbach on Research

Dr Malene Breytenbach, author of over 20 books, including historical as well as contemporary stories, spoke on Hoe om navorsing in jou roman te inkorporeer. Thank you to editor Carolyn Meads of NB-Uitgewers for this report on Malene's talk.


Vir doktor Malene Breytenbach is navorsing een van die lekkerste dele van die skryfproses. Dít het duidelik geblyk toe sy by ROSACon2015 haar navorsingsgeheime met liefdesverhaal- skrywers gedeel het.

“By alle boeke is ’n mate van navorsing noodsaaklik,” het Malene gesê. Dit is iets wat sy by al haar boeke – van moderne tot historiese liefdesverhale en romanses met ’n mediese agtergrond – van groot waarde ag. Sy het daarop gewys dat navorsing die basis vorm vir die ontwikkeling van karakters en ruimte, waaruit die storie voortvloei.

“Moenie jou lesers onderskat nie. Gee vir hulle iets wat hulle nuut kan leer,” het Malene gesê. “Dis intelligente mense wat romanses lees.”

En sy sal weet, want Malene beskik oor meestersgrade in Ou Nabye Oosterse Studie en Antieke Studie en ’n doktorsgraad in Joernalistiek. Dit is juis haar navorsing oor die antieke wêreld wat gedien het as inspirasie vir haar eerste gepubliseerde romanse, Palmyra herleef.

Malene steun dikwels op haar eie kennis van argeologie en joernalistiek en haar eie ervarings van byvoorbeeld reise om haar verhale te skryf. Maar sy weet ook hoe om bronne effektief in te span. Sy gesels graag met kundiges, veral vir die mediese liefdesverhale wat sy onder die Hartklop-druknaam publiseer. “Die insigte in ’n beroep en lewe wat jy van só iemand kry, is meer prakties as wat jy in ’n boek of met Google kan navors.” Maar sy voeg by dat Google en boeke beslis hul plek in die navorsingsproses het. Malene stel ook voor dat skrywers ’n kaart raadpleeg wanneer hulle oor ’n bepaalde gebied skryf en dat hulle dan oor die geskiedenis van dié plek oplees.

Vir haar mees onlangse boek, My redder, my beminde, waar ’n aktrise in ’n ongeluk ’n diep sny oor haar gesig kry en by ’n eksklusiewe kliniek deur ’n plastiese chirurg behandel word, moes Malene plastiese chirurgie navors. TV-programme soos Botched het handig te pas gekom toe sy skryf oor ander pasiënte wie se gesigsontrimpelings en borsvergrotings elders geflop het en wat by die kliniek opdaag sodat die bekwame en baie aantreklike dokter dit kan regstel.

Hoewel navorsing vir Malene baie plesier besorg, is dit ook vir haar ’n saak van erns. Sy het die skrywers by die praatjie gemaan om navorsing nie ligtelik op te neem nie. "Daar is altyd lesers wat iets meer van ’n ding weet as jy en as dit nie outentiek en geloofbaar klink nie, kry jy kritiek of hulle skryf jou af.” Moet dus nooit die belangrikheid van goeie navorsing onderskat nie.



No comments:

Post a Comment